Artikel: Beesproduksie in perspektief op plase in Suid Afrika

07/09/2020

Daan and team at Sasol Secunda

Daar is baie faktore wat ‘n invloed op die aard van beesboerdery in Suid-Afrika het. Tussen die verskillende streke in die land is daar groot verskille met betrekking tot reënval, grondtipe, bosindringing, veldtipe, drakrag, topografie, bosluissiektes, veldvure, temperature en voorkoms van plae soos springkane en kommandowurms.

Die prys van grond, die risiko van veldvure, veediefstal en afstand na markte is ook ter sake. Die rooivleisbedryf funksioneer baie goed met betrekking tot toegang tot bemarking, veeveilings, voerkrale en abattoirs in groot dele van die land, met goeie beheer oor veesiektes en veeartsenydienste. Die aantal kommersiële beesboere kan enigiets tussen 15 000 en 20 000 wees wat op duisende plase dwarsoor Suid-Afrika aktief is waar hulle met ongeveer 7 miljoen kommersiële en stoetbeeste boer. Speenkalfproduksie is die oorheersende produksiestelsel.

Ongelukkig moet bygevoeg word dat daar sekerlik honderde beesboere is waar die droogte oor die afgelope jare uitmergelend was en kuddes eers van onder af opgebou moet word.

Vir die doel van hierdie artikel gaan hoofsaaklik op die ‘’beeskudde’’ per se gefokus word, en wel in ‘n slagbeesstelsel, omdat dit vreemd by produsente is en baie geleenthede bied, mits die regte tipe bees gekies word. Die gesprek handel oor hoe beesproduksie plaasvind, hoe dit gemeet word en hoekom dit so gedoen word.

Die wonder van beeste en beeskuddes

Daar is niks van beeste belangriker as dat hulle herkouers is wat bedoel is om deur alle seisoene op veld te lewe en te produseer en sodoende die mees gesogte kwaliteit rooivleisproduk kan lewer in vaste siklusse. Maar, beeste per se is baie meer as net dit. Beeste is ‘’wonderdiere’’, wat is wat boere van hulle maak. Ten spyte van hul grootte en vleismassa per dier, is hulle baie beweeglik om te skuif na elders en kan met gemak in hanteringskrale hanteer en vervoer word.

Beesproduksie vind plaas binne kuddeverband en die produksiefaktor is lewende massa. Die kudde bestaan gewoonlik uit vier beesklasse, naamlik koeie, kalwers, jongbees en stoorbees (of slagbees), wat oor verskillende natuurlike lewensfunksies beskik waardeur kuddes produseer. Die koeiklas produseer deur reproduksie en laktasie vir hul suipkalwers tot speenouderdom. Daarna is hulle dormant en vreet veld sonder enige produksie. Die jongbees en stoorbees produseer solank hulle groei en vetword. Alle lewensfunksies is ewebelangrik.

Doeltreffendheid en winsgewendheid op ‘n beesplaas is ‘n funksie van bestuur van die beeskudde want dit gebeur nie vanself nie. Dit beteken ook om die kudde in ‘n stelsel te bestuur met ‘n spesifieke doel. Ons weet almal dat weiveldbestuur ‘n deurslaggewende saak in beesboerdery is; ongelukkig is daar vir die doel van hierdie artikel nie geleentheid om aan dit die nodige aandag te gee nie, behalwe vir die volgende definisie:

Beesboerdery is ‘n landboukundige besigheid wat in ‘n stelsel van volhoubare veld- en beesproduksie funksioneer met die doel om kwaliteit natuurlike rooivleis te lewer

Kan ‘n mens beesboerdery anders defineer? ‘n Mens wonder waarom so baie beesboere hul speenkalwers, wat die mees produktiefste beesklas van ‘n kudde is, aan ander mense in die produksieketting verkoop om daaruit geld te maak? Wat oorbly op die produsente se plase is die teelkudde (koeie en bulle), wat as ‘n mens hul beleggingswaarde en opbrengs per kilogram inset in berekening bring, die duurste en ondoeltreffendste beesklas van ‘n kudde is, soos wat vorentoe behandel word.

Beesproduksie kan ook vanuit ‘n ander hoek benader word wat ‘n veelseggende toepassing het. Dis baie sinvol om na ‘n kudde te verwys in terme van lewensmassa, want dit bestaan uit lewensmassa en produseer lewensmassa (met ander woorde, beesmassa produseer beesmassa). Kommersiële plase se drakrag (inset) word benader in terme van lewensmassa per hektaar, die norm van produksie (uitset) is ook in terme van lewensmassa per hektaar en die opbrengs, in rand en sent, is weereens in terme van hektaar.

Die bestuur van produksie van beeskuddes

Die volgende is ‘n paar stellings waaroor ‘n mens ‘n gesprek kan voer. ‘n ‘’Mooi beeskudde’’ van enige ras wat oor jare opgebou is, is geen waarborg bied dat dit doeltreffendheid is nie; die gebruik van alle soorte rasse met die beste teelwaardes vir swaar speenkalwers is ook geen waarborg dat dit die beste kudde-opbrengs of goedkoopste produksie van die kudde lewer nie. Aangeplante weidings of multikampstelsels of ultradrukbeweiding kan bydra tot groter vertikale produksie, maar dis ook geen waarborg vir groter doeltreffendheid van die kudde nie. Bestuur en nogmaals bestuur, is die enigste manier waardeur beesboerdery doeltreffend en hopelik winsgewend gemaak kan word, as ons nie onrealistiese verwagtinge koester nie.

Die begin van ‘n suksesvolle boerdery is dat boere seker moet maak om al die praktyke waaroor hulle beheer het reg en goed te doen. Identifikasie, kastrasie, onthoring, brandkodes en dekseisoene is die minimum wat aandag moet kry. Sonder ‘n stelsel en ‘n doel en rekords, is daar geen biologiese en ekonomiese produksieteikens om te haal en kan doeltreffendheid nie gemeet word nie.

Elke beesplaas het ‘n bepaalde drakrag-kapasiteit wat in terme van kilogram belading per hektaar (inset) as norm geldig is. Binne sodanige norm moet die volgende aspekte ‘n plek vind sonder dat ons die drakrag oorskrei:

  • ‘n Beeskudde bestaan uit klasse, soos koeie, kalwers (
  • Beesklasse beskik oor lewensfunksies (groei, reproduseer, lakteer en vetmes) wat die klasse se aantal vergroot en/of laat toeneem in massa en die kudde in geheel laat produseer; ‘n beeskudde se produksie is dus afhanlik van lewensfunksies en nie van eienskappe nie;
  • Produksie van ‘n beeskudde is dus ‘n proses van aanhoudende massatoename en waardevermeerding (bv. 0,3kg per beeseenheid/dag); aan die einde van elke jaar-periode kan al die data van metings verwerk word om te bepaal hoe goed of hoe swak die kudde presteer in vergelyking met ander jare;
  • Die klasse van ‘n kudde word eweveel beïnvloed deur omstandighede, omdat daar altyd ‘n balans in die prestasie van die klasse in ‘n kudde is; byvoorbeeld as die groei van jongbeeste in die kudde swak is, sal die kalwingpersentasie en die gewig van die stoorbeeste ook swak wees, want dis die gevolg van voeding;
  • Daar is twee soorte siklusse in die kudde; die eerste een is die reproduksiesiklus waar vervangingsverse jaarliks in die koeiklas opgeneem word in die plek van uitskotkoeie wat moet vetmes en geslag word;
  • Die tweede siklus is die proses van slagbeesbemarking van die stoorbees voor hulle 36 maande oud is, tesame met die uitskotkoeie uit die koeiklas; die ideaal is om te beplan dat die aantal kalwers wat gebore word ooreenstem met die aantal beeste wat elke jaar bemark word om te verseker dat die kudde se getalle konstant/volhoubaar bly. ‘n Gevestigde kudde sal eweveel osse en vroulike slagdiere bemark.

Ons moet dus ‘n beeskudde sien vir wat dit is. Die produksieproses begin by die koeiklas wat ‘n vaste eenheid op die plaas is wat jaarliks ‘n groep kalwers produseer en lakteer totdat hulle gespeen word. Vanaf een-jaar ouderdom word kalwers as jongbees beskou tot op twee jaar ouderdom, wanneer hulle stoorbees word. Vervangingsverse word jaarliks uit die stoorbeesgroep onttrek om die uitskot te vervang. Die stoorbeeste groei en moet vet word sodat dit as slagbees bemark kan word voor die ouderdom van drie jaar. Op dié wyse is alle prosesse in ‘n beeskudde oor ‘n 12-maande voltooi en die kudde is gereed om die volgende siklus te herhaal.

Doeltreffendheid, waardevermeerdering en beesklasverhoudings

Dit is duidelik dat om ‘n beesboerdery ten volle doeltreffend te maak, moet ‘n mens dit met ‘n holistiese benadering en ‘n fyn aanvoeling bestuur. Die beplanning moet voorsiening maak dat die kudde jaarliks, na elke produksiefase, reg gestruktureer en volhoubaar sal wees vir die herhaling van die jaarlikse produksieprosesse.

Doeltreffendheid by beesboerdery kan nie aandag kry as beesboere nie rekord hou en nie hul beeste weeg nie. Doeltreffendheid word administratief bereken in boere se kantoor vanaf die nodige rekords. Dit kan nie in ‘n beeskraal of in die veld gedoen word nie. Dit maak nie saak watse teling- of seleksieprogram op die kudde toegepas word en watter eienskappe of ras van belang geag word nie. Doeltreffendheid word bereken van die hoeveelheid beesmassa geproduseer (uitset) in verhouding tot die hoeveelheid beesmassa in voorraad (inset).

Net soos wanneer ons met ‘n motor ‘n reis aanpak en moet weet hoeveel liters petrol in die tenk is, net so belangrik is dit om alles van die kudde beeste onder ‘n mens se beheer moet weet.

Beeste se hooffunksie op ‘n beesplaas is produksie en die universele kriterium vir produksie is kilogram-massa.

Onderstaande tabel is saamgestel uit die rekords van ‘n fiktiewe beeskudde vir die berekening van produksie. Dit is ‘n voorstelling van ‘n slagbeeskudde van 528 beeste, wat uit koeie, kalwers, jongbees en stoorbees bestaan (stoorbees sluit in uitskotdiere). Jaarliks word 126 kalwers gebore en 126 stoorbees word as slagbeeste bemark teen 445kg slagmassa. Die beesdata is afkomstig van die jaarlikse weging van die totale kudde in Maart/April, asook wanneer bemarking of inkope gedoen word. In die praktyk sal daar baie variasie van getalle en gewigte voorkom. Wat baie belangrik is, is dat ‘n mens nie oor produksie kan praat sonder om na syfers te verwys nie.

Die data aan die linkerkant verteenwoordig die inset-waardes, waarvan die totaal 153 810kg is [kolom (A)]. Aan die regterkant is die data van dieselfde beeste 12-maande later, wat gesamentlik 202 320kg weeg [kolom (B)]. In kolom (C) verskyn die verskil tussen (A) en (B) van al die klasse (uitset), sowel as die kudde se totale uitset van 48 510kg. Daarna volg die omsetwaardes (doeltreffendheid) deur die uitsette te deel deur die insette (uitset ÷ inset x 100= omset%). Op hierdie manier word al die klasse in die kudde, en alle lewensfunksies van die klasse, ondervang. Dit gee ‘n duidelike beeld van die klasse en die kudde se relatiewe doeltreffendheid.

Die volgende inligting moet dien as statistiek om vergelykings en besluite moontlik te maak:

  • Die koeiklas se inset is 67 500kg en saam met die kalwerklas se inset (7 560kg), is die totaal 75 060kg. Die uitset is 23 940kg, wat ‘n produksie-omset van 32% lewer [kolom (C)].
  • Jongbeeste is baie doeltreffend want hul beginmassa (inset) is 31 500kg, hul eindmassa is 47 250kg, en produksie (uitset) is 15 750kg. Die omset is dus 50%.
  • Stoorbees se prestasie is baie swak met 19% omset;
  • Die kudde in geheel se inset is 153 810kg wat ‘n jaar later verander na 202 320kg en dus ‘n produksie (uitset) van 48 510kg oplewer wat ook ‘n omset van 32% verteenwoordig;
  • Die 126 stoorbees word in groepe voor 36 maande ouderdom bemark (uitskotkoeie en verse ingesluit) met ‘n moontlike gesamentlike opbrengs van R1 345 680 (126 x R24/kg x 445kg);

Samevatting en gevolgtrekking

Produksiemeting by beesboerdery is ‘n saak wat in die verlede nie voorligtingkundig behandel is nie en daarom word dit as baie vreemd beskou. Insgelyks is daar in die literatuur ook geen verwysings en definisie van produksie en produksiemeting van beeskuddes nie. Die bedoeling met bogenoemde tabel is om alle sake rondom doeltreffendheid van ‘n beeskudde in oënskou te neem. Sake soos waardevermeerdering, klasseverhoudings en verwantskappe tussen klasse moet jaarliks aandag kry wanneer die resultate ontleed word.

Die oorhoofse uitdaging van beesboerdery is om te bepaal wat die jaarlikse beesmassa uitset is in verhouding tot die kudde se inset (die tabel illustreer dat dit 32% is). Ons hipotese is om te streef na ‘n omset naby 40%, maar dis onbekend of dit moontlik is. In die geval van die voorbeeld in die tabel, sal ‘n 5% verhoging in doeltreffendheid (5%x48 510kg= 2 426kg) ‘n ekstra inkomste van R58 224 (2 426kgxR24/kg) tot gevolg het van dieselfde kudde sonder dat daar enige ekstra uitgawes is.

Hierdie artikel beskryf ‘n slagbeesbeestelsel wat geleentheid bied aan beesboere om ten volle wetenskaplik op te tree in elke faset van die bestuur van hul beeskuddes, tot en met die lewering van die gesondste rooivleis aan die verbruiker.

Ons projek - CattleProduction.org.za - is daarop gemik om kommersiële beesboere te help met die meting, verbetering en vergelyking van die produksiedoeltreffendheid soos beskryf in hierdie artikel. KLIK HIER om nou aan te sluit.

‘’Observations and hypotheses are the basis of science’’

Botkin, DB & Keller, EA, 2012: ENVIRONMENTAL SCIENCE, John Wiley & Sons

Production

"Tell me how you will measure me and I will tell you how I will behave" 

Join this project and become an informed commercial cattle producer. 
JOIN NOW